Afrikaans

KOM LAAT ONS WERK IN 2010

‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het ons as besorgde Suid-Afrikaners wat tot die openbare onderwys verbind is, bymekaar gekom om ‘n beroep vir publieke deelname in die onderwys te doen. Maar soos die jaar verbygegaan het, het ons bra min vordering rakende die uitdagings aan die stelsel gesien. Arme Suid-Afrikaners het hul vertroue in die onderwys geplaas, aangesien die sosiale stelsel, soos dit nou is, op die oog af vir hulle ‘n doodloopstraat is. Dit bly steeds ‘n feit dat ons onderwysstelsel in ‘n krisis verkeer en ons kinders benadeel. As ons hierdie saak nie onmiddelik en doeltreffend aanspreek nie, sal dit nie net alle potensiaal vir ekonomiese en maatskaplikke ontwikkeling in die wiele ry nie, maar ook die lewensvatbaarheid van ons demokrasie ondergrawe.

Ondanks alle inisiatiewe, beleidsverklarings en goeie voornemens gaan ons voort om ‘n twee-vlak onderwysstelsel te propageer, een vir die kinders van die rykes en ‘n ander een vir die kinders van die arm mense in ons stede en in ons landelike gebiede. Nog moet te veel van ons kinders na skole met gebrekkige hulpbronne gaan, plekke wat onaantreklik en vreesaanjaend is. Nog is dit die geval dat te veel van ons kinders nie toegang tot moedertaalonderrig het nie en, skande bo alle skandes, dat te veel van hulle sonder ontbyt moet gaan “leer”. Ons uitslae wat geletterdheid, gesyferdheid en kritiese denke betref is ‘n bewys dat die huidige stelsel nog altyd die kenmerke van die apartheidstelsel reproduseer. Ons durf nie aanhou om die skuld vir hierdie stand van sake op die kinders en leerkragte in die armer skole te plaas nie. As ‘n nasie het ons nie daarin geslaag om die toestande in hierdie skole te skep wat tot sukses kan lei nie. As ‘n volk is dit ons plig om saam te staan en ons verantwoordelikheid vir die opvoeding van ons kinders terug te eis.

Die onderwyskrisis is die verantwoordelikheid van die regering en van ons almal. As die burgery van ‚n  demokratiese bestel mag ons ons verantwoordelikheid vir openbare deelname nie systap nie. Boonop is die onderwyskrisis sistemies van aard en te uitgebrei om deur die regering alleen baasgeraak te word. Terwyl die publieke aandag op verwikkelinge in die politieke sfeer gefokus is, skyn dit asof ons vergeet het dat die kwaliteit en die sukses van die onderwys van die aktiewe deelname van die breër publiek afhanklik is. Ons kan aanvoel hoe die golf van ontevredenheid rondom die onderwys uitkring en dat mense op ‚n meer massiewe en formeel georganiseerde manier wil reageer.

Dit is dan ook die rede waarom ons hierdie beroep op alle besorgde Suid-Afrikaanse burgers weereens doen. Ons vra almal, jonk en oud, ouers, gemeenskappe, studente, leerkragte en ander onderwyskundiges, akademici, NROs wat met die onderwys te make het en diegene wat leierskap posisies in die gemeenskap en in allerlei organisasies beklee, om by ons aan te sluit sodat ons tesame die onderwys heelbo op die nasionale sakelys kan plaas. Dit bly ‚n feit dat ons net dan ‚n verskil kan maak as ons almal saamstaan om ons demokratiese verantwoordelikheid terug te eis en die publiek rondom die uitdagings in die onderwys te mobiliseer.

Eerstens vra ons alle besorgde Suid-Afrikaners, wat dit nog nie gedoen het nie, om hierdie oproep te onderteken. Voeg jou stem en jou energie by hierdie oproep. Dit sal die fondament word waarop alle Suid-Afrikaners sal kan saamstaan en ‚n nie-partydige netwerk en ‚n onderwysbeweging in 2010 sal kan versterk.

 

Ons doen ‚n beroep op alle burgers, wat oor die onderwys besorgd is om hulself te organiseer en om die debat oor hierdie aangeleenthede uit te brei.

Ons doen ‚n beroep op alle organisasies, onderwyskundiges en praktisyns om saam te staan, hulle ervaringe met mekaar uit te ruil en veral om vlakke van medewerking te identifiseer.

Ons doen ‚n beroep op alle Suid-Afrikaners om die energie van 2010 te gbruik om op te staan vir die onderwysstelsel wat ons almal wil hê, deur die 1 DOEL Veldtog vir Onderwys vir Almal te ondersteun.

Ons beywer ons om ‚n netwerk, ‘n koalisie van indiwidue, gemeenskappe en organisasies oor alle verskille heen rondom die onderwys saam te snoer, om sodoende meer effektief vir ‘n geskikte onderwysbestel te mobiliseer as wat ons op indiwiduele basis sou kon doen. Om die onderwys wat ons in 1994 vir ons kinders beoog het te verwesenlik, moet ons ons stemme dik maak en ons energie op die onderwysprojek fokus. In die lig hiervan wil ons probeer om die netwerk in ‘n nasionale konferensie in 2010 saam te roep. Die doel is om ons ervaringe met mekaar uit te ruil, vlakke van medewerking te identifiseer en strategieë vir die netwerk te formuleer.

Die volgende is van die uitdagings en gebiede wat ons oorweeg het en waar ons meen dat konkrete optrede moontlik is. Ons besef natuurlik dat die uitbreiding en die nouer samewerking van die netwerk daartoe sal lei dat ander uitdagings duidelik sal word en dat hulle aangespreek sal word.

  • Ondersteuning van geletterdheid in Suid-Afrika deur die bevordering van ‘n leeskultuur; boeke moet vir almal en nie net vir die bevoordeelde minderheid nie, bekostigbaar wees; die stigting van biblioteke en leesklubs in gemeenskappe oor die hele Suid-Afrika.
  • Onmiddelike implementering van ‘n korrupsievrye verpligte voedingsskema wat in samewerking met die relevante gemeenskappe gelewer moet word, sodat selfs die armste kind ten minste die kans gegun word om met ‘n vol maag skool-toe te kan gaan.
  • Daarstelling van ‘n onafhanklike nasionale kommissie op onderwys wat veral teogespits moet wees op die belange van die stedelike en landelike armes. Die kommissie moet die taak opgelê word om oop, publieke en deursigtige gesprekke en verhore oral in die land te voer en moet veral na die ervaringe en menings van die armes luister en nie in die valstrik van die konsultantgedrewe model beland nie, waardeur so dikwels hierdie stemme versmoor word. Die kommissie sal ‘n deurdagte en realistiese program vir die radikale transformasie van die hele onderwysstelsel opstel en veral toesien dat die onderwysverwante behoeftes van die armste stedelike en landelike gemeenskappe aangespreek word.

2010 is ‘n opwindende en historiese jaar vir Suid-Afrika, wanneeer dit van ons verwag sal word om die wêreld te wys hoe ver ons gevorder het. Maar ons moet nie toelaat dat die gebeurtenisse van 2010 ons aandag aflei van die feit dat ons nog ‘n lang pad moet loop. Ons moet nie die dringendheid van die stryd vir ‘n gehalte onderwys vir almal opsy skuif nie. Ons moet liewer hierdie geleentheid gebruik, waar die hele wereld se aandag op ons gevestig is, om saam te staan en ons mense te mobiliseer vir die gehalte onderwys wat ons vir ons kinders en vir behoeftige volwassenes wil hê. As ons die moed het om dit te doen, sal ons die Suid-Afrika kan bou waarvoor ons so lank geveg het en waarvoor ons nou nog veg.